What: 🎵 Hoort | DRAMA | KABARET

https://tickets.tixsa.co.za/event/hoort-musiek
When:
Who: 🎤 Elzabé Zietsman
Where: 🕳 Hermanus Munisipale Ouditorium
How much:
🎟️ R220.00Seat
HOORT
Met: STEPHANIE BAARTMAN
Regie: Elzabé Zietsman
Musiek: Janine Neethling
Teks: Stephanie Baartman
Samesteller: Johann Slabbert
Om te behoort; deel wees van; inpas.
Hoort is ’n semi-outobiografiese kabaret met die talentvolle sangeres en
aktrise Stephanie Baartman, met staaltjies uit haar interessante lewe as
dogter van twee pastore met tipies Suid-Afrikaanse erfenis en letsels. Steph
se pa se familie is, soos talle ander families, in twee geskeur deur die wet
op rasseklassifikasie: een broer en suster is saam met hulle Ma as Xhosa’s na
die ou Transkei verplaas, terwyl Stephanie se pa en suster saam met hulle Ouma
as Bruinmense (die klassifikasie “Kleurlinge”) in Humansdorp grootgeword het.
Almal ken die uitdrukking “Nie wit genoeg nie, nie swart genoeg nie” wanneer
dit by Bruin kwessies kom, maar wat nou as jy ook nie bruin genoeg is nie?
Hier het ons ‘n skooldogtertjie wat nie eers kwaad of seergemaak is as haar
maatjies vir haar sê sy kan nie in hulle erf inkom nie want “hulle honde byt
swartmense”. Sy is maar net te bly die hond gaan haar nie byt nie!
Maar daar is ook die swart persoon wat haar uitskel omdat sy nie Xhosa of
Tswana verstaan as hulle haar aanspreek nie en sy vir hulle sê “maar ek is
Afrikaans!”
Daar is komiese stories oor Steph as ‘n jong meisie sonder die ideale lyf,
hare (en nodige ritme) wat met ‘n oorvloed entoesiasme by die trompoppies
probeer aansluit, en al is dit ‘n fiasko, kan sy vandag erken haar probleem
was (en is nog steeds) haar Ma wat met trots vir haar sal sê “My kind, jy het
uitgestaan vandag, uitgestaan!” En gevul met Mammie se aansporing probeer sy
môre weer, net so.
Daar is die keer toe sy Die Ander Ouma in Transkei gaan opsoek het, maar hulle
mekaar nie kon verstaan nie, ten spyte daarvan dat die ouma soos almal in
Steph se grootword-huis lyk. Later, op haar begrafnis kon haar eie kinders nie
mekaar se Afrikaans en Xhosa verstaan nie en moes hulle Engels met mekaar
praat. Maar die stille verwyt het ongesê gebly in enige taal.
Hoort bestaan uit stories oor Steph se lewe as pastore se kind, haar impromptu
optredes by die kerkbasaar wat haar meer aanvaarbaar onder haar maatjies
gemaak het, die konstante kommer dat jy maar net ‘n kwotaspeler in TV-reekse
en toneelstukke is en nie daar is vir jou talent nie maar gelukkig kan hulle
jou “cast” as bruin of swart en veelsydigheid is immers ‘n gawe. Dan is daar
ook die verskillende tonge waarmee jy praat, en die talle pruike wat jy dra
voor verskillende gehore. Alles om in te pas.
Daar is stories oor die kerk en koortjies wat gesing word, ‘n kinderverkragter
wat met ope arms, lofliedere en gebede teruggeneem word in die gemeente terwyl
die jong slagoffer dit verslae uit die kerkbanke moet aanskou.
Dan is daar jou ma wat saam met jou bus ry skool toe, jy in jou graad 1
skoolklere, en sy in haar Matriek skoolklere. En aan die einde van die jaar is
sy in ‘n spierwit rok matriekafskeid toe met jou pa as haar trotse metgesel.
Hoort is ‘n kabaret oor onderdrukte mense se deursettingsvermoë en
vasberadenheid om ‘n beter wêreld vir hulleself te skep.
Dit is ’n opbouende storie oor “belonging” (die behoefte om te behoort, in te
pas en deel van ‘n groter eenheid te wees), die belangrikheid van kultuur
(veel belangriker as ras) en die liefde vir Afrikaans in al sy vorms en
fasette. Dit alles binne die hutspot van Suid-Afrikaanse rassepolitiek.
Die musiek is ‘n verlenging of ontknoping van die stories en sluit in jazz,
gospel, koortjies, luisterliedere, verwerkings van kontemporêre liedjies asook
‘n paar oorspronklike nommers spesiaal geskryf vir die stuk en word gesing in
Afrikaans, Engels, Xhosa, Zulu, Tswana en Sesotho.
Tydsduur: 70 min
Ouderdomsbeperking: Geen
Kaartjienavrae:
Telefoon: 012 880 26 35
e-pos: navrae@kalfiefees.co.za
www.kalfiefees-hermanus.co.za
Werksure:
Maandag tot Vrydag: 9vm to 5 nm
Saterdae: 10vm to 2nm
Sondae: 10vm to 1nm
Publieke Vakansiedae: 10vm to 1nm