What: 📅 Vrou met 27 kinders | DRAMA

https://tickets.tixsa.co.za/event/vrou-met-27-kinders-drama
When:
Where: 🕳 Hermanus Munisipale Ouditorium
How much:
🎟️ R220.00Seat
Eenvrouvertoning met: Petru Wessels
Regie: Carel Trichardt
Hoe ver strek ’n ma se liefde – selfs as haar kinders van hout gemaak is?
Gebaseer op ’n ware verhaal, bring Petru Wessels lewe aan hierdie roerende
eenvroustuk deur Ludmilla Bollow. ’n Kinderlose vrou, ’n beeldhouer-man, en 27
kindertjies van hout wat vir haar werklikheid word. Maar wanneer haar
“kinders” van haar af weggeneem word, ontvou ’n storie van liefde, verlies en
onwrikbare hoop.
Die stuk vertel die storie van n kinderlose egpaar. Die man, ’n beeldhouer,
maak elke jaar vir sy vrou ’n baba uit hout. Hy maak uiteindelik vir haar 27
kinders uit hout. Vir haar is hulle nie houtpoppe nie, maar kinders van vlees
en bloed. Na haar man se dood, gaan sy ander beelde na die museum op die dorp.
Die verhaal ontvou verder wanneer die museum se mense die vrou se “kinders”
ook van haar wil wegneem.
Universele temas soos kinderloosheid, ouerliefde, liefde tussen man en vrou
asook ouderdom en demensie word aangespreek – altyd teen die agterdoek van
Hoop en Lig.
Hierdie opvoering is in 1996 deur Petru Wessels by die KKNK van daardie jaar
opgevoer. Dit is nou nuut verwerk en die regie word deur Carel Trichardt
waargeneem.
Die teks spreek temas aan waardeur mense deur die jare en vandag steeds
deurentyd geraak word.
Terwyl kinderloosheid die sentrale tema is, staan dit naas tydlose menslike
emosies en toestande soos verlies, demensie en bo alles liefde – liefde tussen
mense maar ook liefde vir ’n kind of kinders wat nie noodwendig van vlees en
bloed is nie.
Hierdie temas is universeel. Dit verklaar waarom die teks reeds in onder
andere Sjinees en Portugees vertaal is en ook in oa Hong Kong en in Brasilië
opgevoer is.
Ook in Suid-Afrika is daar voorbeelde van kinderlose egpare wat eiesoortige
maniere vind om hulle kinderloosheid te verwerk. In 1996 het Helena Rennie se
verhaal die nuus gehaal. Sy en haar man het nie kinders gehad nie en hy het
vir haar ’n pop gegee wat sy ‘Meisie’ genoem het en wat sy soos ’n regte kind
hanteer het. Aan die einde van haar lewe het sy in armoede geleef en was haar
een groot begeerte dat Meisie saam met haar begrawe moes word. Deur die
goedhartigheid van die publiek kon haar wens bewaarheid word.
Hierdie verskynsel waar egpare ’n pop soos ’n kind vertroetel en versorg, is
’n erkende sielkundige toestand wat met die term folie à deux aangedui word.
Dit is in Die Burger deur dr Heinz Mödler beskryf as ’n baie moeilik
behandelbare geestestoestand.
Oorsprong van die verhaal
Die storie van 27 kinders vir ’n vrou waarin die lewensverhaal van die
karakters’ Engel’ en ‘Vernon’ vertel word, is direk gegrond op die lewens van
Cal en Ruby Black wat in die 1970’s in ’n klein dorpie met die naam Possum
Trot in Kalifornië gewoon het. Die egpaar was kinderloos en Cal het vir Ruby
lewensgrootte poppe uit hout gekerf wat hulle soos kinders versorg het. Buite
hulle eenvoudige huis het van die poppe op swaaie gesit om verbygangers te lok
na die Birdcage Theatre binne die huis waar die ‘houtkinders’ gehore op die
verhoog vermaak het. Cal is sewe jaar voor Ruby oorlede en sy self is in Julie
1980 oorlede. Die poppe is deur die eksekuteur van die boedel aan ’n
kunsgalery in Los Angeles verkoop en die geld is gebruik om grafstene op Cal
en Ruby se grafte op te rig.
Die berig oor Cal en Ruby en hulle houtkinders het die Amerikaanse dramaturg
Ludmilla Bollow aangegryp en sy het ’n dramateks daaroor geskryf.
Tydsduur: 70 min
Ouderdomsbeperking: Geen
Kaartjienavrae:
Telefoon: 012 880 26 35
e-pos: navrae@kalfiefees.co.za
www.kalfiefees-hermanus.co.za
Werksure:
Maandag tot Vrydag: 9vm to 5 nm
Saterdae: 10vm to 2nm
Sondae: 10vm to 1nm
Publieke Vakansiedae: 10vm to 1nm